GELOOFSVORMING

Geloofsvorming is ‘n lewenslange reis waardeur ons as gelowiges begelei word om te groei in ons geloof en in ons verhouding met God. Geloofsvorming help ons met ons roeping in die wêreld en met ons identiteit. Daar is verskeie aksies wat onder geloofsvorming val by Skuilkrans. 

Geloof is soos ‘n groot hout eetkamer tafel. Geloofsvorming is ‘n proses net soos houtwerk. ‘n Hout tafel neem tyd, moeite, en vaardigheid om te maak, net soos geloof oor ‘n leeftyd gevorm word. 

‘n Tafel wat met liefde gemaak is kan ‘n erfstuk word wat vir jare familie en vriende se bymekaarkom plek word. Só ‘n tafel is ‘n ruimte waar stories en tradisies gedeel en gevorm word.

Soos 4 tafelpote, word geloof ook gevorm deur 4 aspekte wat geïntegreerd is. Hierdie 4 “pote” is: 
Kennis, Verhoudings, Aksie en Aanbidding

Kennis: Kennis is nodig vir geloofsvorming. Hierdie kennis sluit in kennis oor God, Jesus en die Heilige Gees. Kennis oor die Bybel en kern geloofswaarhede. Kennis wat nodig is om in ‘n verhouding met die Here te leef. Kennis oor die kerk en die gemeenskap van gelowiges. Maar dit sluit ook in toegepaste kennis (lewens wyshede) in oor hoe om as Christen te leef.
Aksie: Geloof wat nie oorgaan tot dade nie, is nie werklik geloof nie. Geloof is nie net kognitiewe waarhede of verhoudings nie, maar ook ‘n gehoorsame navolgelingskap van Jesus wat jou dade, woorde, houding, keuses, waardes en doelwitte beïnvloed. Ons word geroep om as God se ligdraers in die wêreld te leef, na ander uit te reik en ‘n verskil in die wêreld te maak. Geloof en lewe is geïntegreerd.
Verhoudings: Mense is nie gemaak om alleen te glo nie, maar om saam te glo en mekaar se geloof te versterk. Geloof word gevorm in verhoudings met ander deur dissipelskap, mentorskap, gemeenskap van gelowiges en die kerk. Geloof is hoe jy as Christen in verhouding met jouself en ander leef as gelowige. Geloofsvorming is interaktief en ‘n lewenslange vormingsproses.
Aanbidding: Hoe geloof werk is ook ‘n misterie en verskil van persoon tot persoon. God stap ‘n individuele pad met mense en mense ontmoet God op verskillende plekke en maniere. Mense se verskillende spiritualiteite beïnvloed hoe hulle God beleef en aanbid.
Indien jy dalk meer oor geloofsvorming wil weet, skakel gerus die onderstaande kontakpersone
Share by: