Nellmapius en PEN

Wat word gedoen?

Die Nellmapius-aksie van ons gemeente fokus tans op vroeë kinderontwikkeling - die skep van veilige, liefdevolle en stimulerende voorskoolse versorging. Dit begin by opleiding, ‘mentoring’ en ondersteuning van die creche-personeel.
Ons steun hier geweldig op die kennis, jarelange ervaring en infrastruktuur van PEN. www.pen.org.za

Onder die vlerk van PEN word weeklikse tema-klasbeplanning aangebied. Daar is ook elke maand opleidingsessies in die middestad by die PEN kantore. Meeste juffrouens in informele creches het geen formele onderwysopleiding nie. Hierdie opleiding gee hulle die nodige kennis en vaardighede, maar doen ook wondere vir hul selfbeeld en persoonlike groei.
PEN doen kwartaalikse evaluering van elke skool, by hulle geregistreer. Tekortkominge word uitgewys, aanbevelings word gemaak en positiewe veranderinge word beloon. Tydens beloningsdae mag die presterende skole by die PEN ‘winkel’ kom opvoedkundige materiaal ‘aankoop’ d.m.v speel-beloningsgeld.

Danksy pragtige borgskappe vanuit ons gemeente kan ons nou ‘n broodnodige graad R onderwyseres vir een van die skole soek en aanstel. Ons het ook ‘n pragtige jong dinamiese dame in Nellmapius geïdentifiseer, Lerato Vilakazi. PEN lei haar tans op as coach en sy sal binnekort vir ons al die nodige voetwerk, opleiding, evaluering en motivering in die gemeenskap doen. 

Ons toekomsvisie vir Nellmapius is egter veel groter - bemagtiging van die totale gemeenskap. ‘n Naskoolsentrum, tiener ondersteuning, ouerleiding, bejaardesorg, sopkombuis, groentetuin kweking, vaardigheidsontwikkeling, selfbeeldbou en emosionele herstel, MIV- en ander gesondheidsdienste. Ons wil ‘n oase van hoop vir die gemeenskap skep. 


Indien jy meer wil weet oor die Nellmapius en PEN aksies waar ons gemeente betrokke is, kontak 

Rieneke Schutte 083 281 5711 
Wie is betrokke?

Ons het hande gevat met verskeie rolspelers wat reeds in Nellmapius betrokke is.

Die Nellmapius VGK Kerk, NG Groenkloof, NG Lynnwoodrif, Assupol.

Ons wil ander gemeentes graag uitnooi en ook die belangrikste rolspelers in die Nellmapius gemeenskap betrokke kry.

Sedert wanneer is ons gemeente betrokke?

Ons gemeente is reeds vir baie jare op verskeie maniere betrokke in Nellmapius. Daar is egter in 2018 besluit om met nuwe ywer kleiner te fokus ten einde ons groter visie so beter te kan uitbou.  
.

Hoe kan gemeente-lede betrokke raak?

Die skooltjies, asook PEN se winkel en uitleen-biblioteek het altyd ‘n tekort aan opvoedkundige materiaal. Donasies is baie welkom.
Kinderklere vir die skooltjies; enige weggeeklere ten einde ‘n tweedehandse klerewinkel te begin.
Artikels soos: 

Leë roomyshouers, klein skêrtjies, uitdraaikryte
Hoepels, springtoue, boontjiesakkies, balle, skop-motorfietse vir buitespel
Legkaarte, boublokkies
Opvoedkundige- en bordspeletjies 
Maatkoppies en -lepels, bekertjies, tregters, emmertjies, grafies vir water- en sandspel

Sodra die infrastruktuur opgegradeer is, gaan ons afrondingswerk wil doen.

Ons mag dus in die toekoms onder die vaandel “Nellmapius” vra vir ekstra hande, kennis, finansies en kom-help-omgee. 

Wanneer word dit gedoen?

Die werk deur PEN gedryf,  is deurlopend.

Werk in Nellmapius self is nie spesifiek roetine gebonde nie. Dit word bepaal deur die behoeftes. Tans wag ons vir infrastruktuur om gefinaliseer te word voordat ons kan inspring om verder mooi te maak. Assupol bestuur hierdie reuse infrastruktuur projek.

Hoekom is dit nodig?

Ons glo dat elke kind in Suid-Afrika geregtig is op ‘n stewige opvoedkundige fondament. Dit gee die kind ‘n kans om te kan FLOREER.

Elke kind wat aangeraak word, het ‘n potensieel positiewe langtermyn rippel effek.

Boonop is Nellmapius ‘n woongebied slegs 8 Km van Skuilkrans kerk af. Hulle is ons bure.

Share by: