MEER OOR ONS

As leerlinge van Jesus Christus
verwonder ons ons oor God,
sien ons mekaar raak en
omhels ons almal in ons wêreld.

Skuilkrans se logo bestaan uit die naam van die gemeente, geskryf in gebroke skrif in die kleure van die reënboog.  Die gemeente se naam is afgelei van die oorspronklike plaas Skuilkrans waarop die gemeente se gebou opgerig is.  Die gebroke reënboog gaan terug na die Noagverhaal in Genesis 6-9 waar God ‘n verbond sluit met Homself en die reënboog as teken gee van sy ewige trou.  God beloof dat mense nie weer deur vloedwaters uitgewis sal word nie en sê:  Nooit weer nie.  Nooit weer sal ons God se trou aan sy skepping ongedaan maak nie. 

Die veelkleurigheid van Skuilkrans se naam wil ons in die eerste plek oproep tot ‘n lewe van skoonheid en vreugde, want God gee lewe en God is getrou aan sy skepping.  Daarom is deel van ons DNA ook die slagspreuk Floreer

Die gebroke skrif herinner ons tweedens aan ons eie gebrokenheid, weerloosheid, afhanklikheid en menslikheid.  Ons wil ‘n eg menslike gemeente wees waar alle mense, ongeag afkoms, onderdom, taal, kleur en seksualiteit, welkom is en voel.  Ons glo Christus is God se eintlike reënboog en ware menslikheid is om deur die Gees na die beeld van Christus se menslikheid herskep te word.  Ons glo ook dat God ons vrymaak om mense te wees wat selfloos kan gee vir ander om ons.  Die reënboog herinner ons ook in ‘n tyd van verbruik om ekologies sensitief te leef.  God se trou is nie net aan mense nie, maar aan sy hele skepping.  Ons wil, deur ‘n lewe van eenvoud, God se skepping oppas en versorg.
Share by: