Algemene vrae

Hoe maak ek as ek
my kind wil laat doop?

Die doop is nie ‘n teken van ons eie geloof in die eerste plek nie, maar eerder ‘n teken van God se ewige belofte aan ons.  Dit word ook die verbondsdoop genoem, omdat dit ‘n teken is van God se verbond (belofte) aan ons.  Die verbond is ‘n belofte wat God aan Abraham duisende jare gelede gemaak het toe God belowe het om Abraham en sy nageslag se God te wees.

Vandag vier ons die genade dat ons ook hierdie belofte van God af ontvang, want deur Jesus is ons elkeen ook nou deel van God se verbondsfamilie.  Die doop is nie iets wat ons verdien nie, maar ‘n viering van die geskenk wat ons van God af kry.

Indien ouers hulle kind(ers) wil doop, moet die aansoek (sien vorm hieronder) ten minste ses (6) weke voor die doopdatum ingehandig word.  Ons doop op die eerste (1ste) Sondag van elke maand, maar indien die doop op ‘n ander datum versoek word, moet ‘n motiveringsbrief die aansoekvorm vergesel.

Ouers sal ook gevra word om 'n doopgesprek by te woon.  Dit vind gewoonlik vir vroegaand in die week wat die doop voorafgaan gereël. Die leraar wat vir die doop verantwoordelik is, sal die gesprek hanteer.  Indien u by ‘n ander gemeente (byvoorbeeld waar u ouers woon) wil doop, moet u nog steeds hierdie vorm voltooi en dit met ‘n motiveringsbrief inhandig. Die ander gemeente sal ‘n toestemmingsbrief van die NG Gemeente Skuilkrans verwag waarin ons meld dat u ons doopgesprek bygewoon het en waarin ons dan toestemming gee dat u kind(ers) gedoop kan word.
Klik hier vir die doopvorm

Hoe maak ek wanneer ek aangeneem wil word/belydenis van geloof wil aflê?

By Skuilkrans het ons 'n jaarlikse belydenisgroep wat elke Sondag ná die aanddiens in die kapel bymekaar kom.  Daar gesels ons oor verskeie onderwerpe soos die Bybel en hoe ons die Bybel lees en verstaan.  Ons gesels ook oor God, die Drie Eenheid en ons reis saam met God deur die lewe.  Ook word daar gesels oor aktuele onderwerpe, soos die gesprek tussen die wetenskap en geloof.  Indien jy belydenis van geloof wil aflê by Skuilkrans, raai ons aan dat jy by hierdie groep aansluit elke Sondagaand.

Indien jy al ouer is en nie elke Sondagaand by die kerk kan uitkom nie, sal ds. Gerrie (wat verantwoordelik is vir ons gemeente se geloofsvorming) 'n paar sessies met jou deurwerk oor wat ons graag wil hê jy moet weet en leer voor jy belydenis aflê.

Ons het gewoonlik een belydenisafleggingsgeleentheid per jaar wat in Oktober plaasvind, maar daar kan ook verskeie ander geleenthede geskep word indien dit nodig is.

Hoe maak ek as ek
die kerk se fasiliteite wil bespreek?

Ons huur graag ons fasiliteite vir funksies uit so ver dit moontlik is. Indien jy graag 'n lokaal, die saal of kerkruim wil gebruik, vul asb die onderstaande vorm in en stuur dit na fasiliteite@skuilkrans.co.za
Klik hier vir die fasiliteite vorm vir lidmate

Hoe maak ek wanneer
'n geliefde sterf?

Wanneer iemand naby aan jou sterf, is daar skielik baie take wat jou aandag vereis en verrig moet word.  Hieronder is 'n kort opsomming wat jou deur hierdie moeilike tyd kan help:

*  Indien die dood onverwags intree, skakel nooddienste om 'n ambulans te ontbied.
*  Indien die persoon aan onnatuurlike oorsake oorlede is,  ontbied die polisie, waarna 'n nadoodse ondersoek gedoen sal word.
*  Skakel 'n begrafnisondernemer wat alles rondom die begrafnis of verassing sal hanteer.
*  Skakel die oorledene se lewensversekeringsmaatskappy.
*  Kry die volgende belangrike dokumente bymekaar:
    -  Testament
    -  Doodsertifikaat
    -  Geboorte- en huweliksertifikaat
    -  ID-dokumente
    -  Aktes en besigheidsooreenkomste
    -  Belastingopgawes, inkomstestate en rekeninge
    -  Voertuigregistrasiedokumente en bankrekeninge
    -  Leningooreenkomste
    -  'n Foto van die oorledene vir die begrafnisbrief

Wees ook voorbereid op onvoorsiene uitgawes en hou in gedagte dat dit soms meer as 'n jaar lank kan duur voordat die proses afgehandel is.  Baie belangrik - sien om na jouself en jou gesin, maak gebruik van ons ondersteuningsnetwerk en maak voorsiening vir die rouproses.

Hoe maak ek om 'n nis
by die kerk te koop?

Heidi, is verantwoordelik vir alle nis-verwante sake.  Sy kan geskakel word by 012 804 7787 vir die koop van nisse, asook die bewaring van oorskot in die NG Gemeente Skuilkrans se Gedenktuin.

Klik hier vir die nisvorm

Hoe maak ek as ek
besoek wil word/iemand wil sien?

In Skuilkrans besoek ons graag lidmate en daar is verskillende maniere om vir ‘n besoek te vra.  Enige versoeke om ‘n leraar te sien, kan aan  info@skuilkrans.co.za gerig word.  

Neem ook asseblief die vrymoedigheid om leraars self te skakel indien daar noodgevalle is of indien u behoefte het om met een van ons leraars te geself.  

Ons Ondersteuningsbediening kan ook gekontak word by 063 712 6346 om 'n afspraak te reël met een van ons opgeleide vrywilligers wat graag ondersteuning bied.

Skakel ook bostaande nommer as besoeke in die hospitaal benodig word. 


Share by: