Vir ons laerskool-medereisigers is daar elke Sondagoggend direk na die erediens groeigroepies. In die groeigroepies, wat strek van Gr. 1 tot 6, volg ons ‘n goed uitgewerkte program om kinders se geloof te vorm. Ons gebruik die 30 minute saam met die kinders om die boodskap van die Bybel tot op elke kind se vlak af te preek en op hul lewens van toepassing te maak. Moeite word ook gedoen om oulike groepleiers te kry wat ‘n passie het vir kinders en wat graag in hulle geloofslewens wil bou.
As jy meer wil weet oor die groeigroepe, skakel vir ds. Yolandé.
Vir ons hoërskool-medereisigers is daar na elke aanddiens dissipelgroepe. Hier word hulle geloof verder gevorm waar hulle leer hoe om dissipels in die wêreld te wees. Die dissipelgroepe bou op die groeigroepies se inhoud en die groot fokuspunt is om jongmense te help om hul geloof uit te leef in hul alledaagse lewe, waar ook al hulle hulself bevind. Ons gesels oor ‘n hele paar jongmens-temas wat aktueel in die hoërskool is. Gesprekke sluit grotendeels aan by die temas van die aanddiens.
As jy meer wil weet oor die dissipelgroepe, skakel vir ds. Nadine.
Daar is oomblikke in ons lewe wat so spesiaal is dat ons moeite wil doen om dit te onthou en te vier. Een van daardie oomblikke is wanneer ons besef dat God ons oneindig liefhet en ons dan kies om daardie liefde te aanvaar en ‘n navolger van Christus te word. Belydenis van geloof is ‘n teken wat ons help om daardie baie spesiale oomblik te merk, te onthou en te vier - ‘n roetemerker op ons geloofspad.
Om belydenis van geloof af te lê, is ‘n geleentheid vir ons om tussen ander gelowiges wat vir ons omgee te antwoord op ons doop. Die doop is ‘n teken daarvan dat God ons gekies het - selfs voor ons dit kon verstaan. God het belowe dat Hy vir die res van ons lewens by ons sal wees, vir ons sal lief wees en ons vergewe - maak nie saak wat ons doen of wat gebeur nie. Wanneer ons dan ons geloof bely, sê ons daarmee dat ons daardie liefde en sorg van God aanvaar. Ons kies gevolglik: 1) om ons lewens te leef met die wete dat God by ons is; en 2) om God se leiding in ons lewens te volg.
In die belydenisjaar trek ons al die lyne bymekaar van wat jy oor die afgelope paar jaar geleer het. Hierdie jaar word jy uitgenooi om saam met die dominees, jou ouers en jou pelle te dink oor God, geloof en die lewe. Die doel hiervan is nie om ‘n klomp antwoorde te gee nie, maar eerder om jongmense te leer om vrae te vra en self by antwoorde uit te kom.
Aan die einde van die jaar, as jy lus is en kans sien, word jy uitgenooi om in die kerk voor ‘n klomp mense te sê wat jy glo, en dat jy met jou lewe wil antwoord deur iets van hiervan te wys. Dit is vir ons belangrik dat jy hierdie belydenis nie sommer doen omdat almal anders dit doen of omdat jou ouers dit van jou verwag nie - dit moet van jouself af kom.
Die belydenisgroep ontmoet in die skoolkwartaal elke Sondagaand om 18:30 (na die aanddiens) in die kapel langs die kerkgebou onder leiding van ds. Nadine.